Friday, 26 April 2013

Dis nou offisieel!

Twee weke is uiteindelik verby en dis tyd vir ons 7 weke afspraak by die gynae. So ver gaan die swangerskap goed. Het n baar queezy dae agter die rug maar te danke aan die internet het ek geleer van die wonders van gemmer en hoe dit kan help met swangerskap naarheid. Ek het ook uit my eie uit geleer dat ek moet liewer eet as ek so olik voel, dit help my beter voel. Ek kan ook se dat daar is sekere dinge waarvan ek nie meer hou nie en geen lus vir het nie, sampioene en murgpampoentjies is bo aan die lys, en dit was altyd van my gunstellinge. Ons rosyntjie, dis hoe groot die embryo is, hou obviously nie hiervan nie. Hopelik gaan dit gou verby. Ek vergryp my aan vrugte, veral Fuji appels en naartjies. So ek eet gesond en maak seker ek vat my folic acid en omega. Die omega op n goeie dag is n challenge want ek kan mos nie pille slik nie so ek moet die olie drink. Yuck! Moet nie eens praat van my vitamiene milkshake nie. Gelukkig is die milkshake vir my en vir ons rosyntjie nie. So as ek hier en daar n dosis mis sal dit nie die einde van die wereld wees nie.

Ek gaan tel vir Weber op en ons gaan gynae toe. Die ontvangsdame vergeet om my in n koppie te laat pie so ek gaan in by die dokter met n vol blaas. Ons praat bietjie oor ons ervaring so ver en gaan toe in vir n scan. Die dokter sukkel om enige iets op te tel met die interne scan, my hart val omtrent, maar ek bly positief. Sy besluit toe om n buite sonar te doen en my volblaas te gebruik om die sonar op te tel. Gewoonlik is 7 weke nog te vroeg om n buite sonar te doen. Sy het nog skaars met die sonar begin toe kon ons die hartjie hoor. WOW, dit was amazing. Sy meet vinnig en stuur my om te gaan pie met die hoop dat ons hierdie keer iets met die interne sonar sal optel, maar ongelukkig kon ons niks op tel nie. Sy se as sy dit geweet het sou sy langer die buite scan gedoen het sodat ons waarde uit die ervaring kon kry. 

Vir ons was dit voldoende om te weet dat ons babatjie daar is, die hartjie klop en dis ons sin. Ons kaboutertjie wat aan die groei is.

Ek word weer vir bloedtoetse gestuur, hierdie keer vir my yster en om te kyk dat ek weerstand teen Rubella (Duitse Masels) het. Hulle stuur ons huis toe met n hele goodie bag vol boeke en lees stof genoeg om my besig te hou vir weke.



So dis nou offisieel en ons laat die hele familie weet. Almal is so gelukkig vir ons. Ons is dankbaar vir die gawe van hierdie klein dingetjie wat binne ons groei en sien uit na die maande wat voorle.

Tuesday, 23 April 2013

Nou wat nou?

Die tuis toets se ons is swanger maar mens wil dit amper nie glo nie. Dis Dinsdag, ek het toevallig n gynae afspraak vir die komende Donderdag en besluit ek sal proaktief wees en die ontvangsdame bel en verwittig van die swangerskap. Ek vind toe by haar uit dat die gynae gaan bloed trek om die swangerskap te bevestig en dat ek so lank die bloed by Pathcare kan laat trek dan sal hulle die uitslag vir die gynae teen Donderdag stuur. Ek kry toe al die nodige vorms en spring in my kar na Pathcare toe wat gelukkig net oor die 1km van ons huis. Die toetse verloop vinnig en nou moet ons maar wag tot Donderdag toe. 

In die tussen tyd wonder ons of ons vir enige iemand moet vertel. Ons besluit vir nou om dit maar n geheim te hou tot die gynae vir ons kan adviseer.

Donderdag voel soos n leeftyd. Deur middel van die internet werk ek so lank my "due date" uit en leer soveel moontlik van swangerskap en wat om te verwag.

Weber aan die ander hand wil wag tot die dokter dit bevestig so is nog nie helemaal oortuig nie.

Donderdag breek uiteindelik aan. Die afspraak met die dokter verloop goed. Sy dink ons is omtrent eager beavers omdat ons op 5 weke swanger vir haar kom sien maar eintlik was dit my jaarlikse se afspraak en dis hoekom ons so vroeg by haar was. Maar anyway sy het bevestig dat ons swanger is en het weer bloed geneem om te kyk hoe my swangerskap hormone besig is om te vermeerder. Sy se ons moet haar oor 2 weke kom sien en na daardie besoek kan ons die familie vertel. Gewoonlik wag mense tot en met 12 weke om dit aan die wereld te verkondig want die eerste 3 maande is maar hoe risiko.

Ek en Weber gaan baie gelukkig huis toe maar dit voel nogsteeds onwerklik. Ons wonder hoe ons hierdie gaan geheim hou tot op 7 weke.

Friday, 19 April 2013

Hoe ons hier uitgekom het

Na omtrent 2 jaar se pratery en debat het ons in Desember 2012 besluit dat ons is basies reg om te probeer vir kinders. Nou dit kan natuurlik baie dinge beteken en of mens rerig reg is sal niemand weet nie. Januarie 2013 begin ons aktief probeer. Ons het n lekker vakansie in Keurbooms en kom terug einde Januarie net om te besef dat ek laat is. Histerie en paniek oorval ons huis, gin mens het gedink dit kan so vinnig gebeur nie. Ek doen vier keer in een week swangerskap toetse wat een na die ander se ons is nie swanger nie. Op dag agt word dit bevestig dat ons nie swanger is nie. Shoe ons het ons amper oor n mik geskrik want dit was net bietjie te vinnig. Dis die begin van die jaar en daar is nog baie los ente wat vasgemaak moet word. 

Ons kom oor die skok en verligting en gaan rustig aan met ons jaar. In Maart besluit ons om vir Weber se ma-hulle in Margate te gaan kuier. Ons wil hulle baie graag sien, wil hulle help om n paar nodige dinge in plek te sit en ook n klein blaaskansie weg kry. Ja ek weet ons was pas 6 weke terug op n lekker vakansie, maar as die geleentheid homself aanbied en ons kan dit maak werk, dan gryp ons dit met albei hande. Hulle het ons nodig gehad en ons wou hulle graag sien. 

Ons besluit toe ons is oor die bomskok van amper swanger wees en dat ons aktief gaan probeer wanneer ons op vakansie is, weg van die stres van werk en die lewe in algemeen. Ons het n baie lekker vakansie, doen al die belangrike familie dinge wat ons moes doen en voor ons weet is on terug in die kaap. Ons het n baie besige week wat op ons wag, piekniek troue, Langebaan toe, vriende sien in Hopefield en weer terug kaap toe. Teen Sondag is ek alweer vier dae laat. 2 Keer op die Sondag het ek ook n bietjie queezy gevoel en se vir Weber ons gaan more oggend n tuis swangerskap toets neem. 

Ek besluit toe om middel van die nag die toets te doen wanneer ek soos gewoonlik moet badkamer toe. Ek le alles reg die aand voor die tyd dat ek kan toets tydens my vroee oggend badkamer besoek (blykbaar is dit die beste tyd). 3am is ek wakker en doen die toets. Ek het dit een kyk gegee en gesien dis negatief en toe weer gaan slaap. Weber staan die oggend op en maak reg vir werk. Hy loer nie een keer vir die toets wat daar regvoor hom le nie. Ek kom by die badkamer in en kyk weer na die toets en val omtrent op my rug toe ek sien daar is 2 strepies. Wat nou? Dis vier ure later en hulle se mens kan nie die toets glo as jy langer as 20 min gewag het nie. Ons besluit toe om niks hiervan te dink nie en weer more oggend die toets te doen. Die heledag wonder ons of ons nou swanger is maar besluit om niks te glo nie. Ek sit toe Maandag aand weer alles reg vir die volgende oggend se toetsery. Dinsdag oggend besluit ek om meer geduldig en wakker te wees en ek doen die toets terwyl Weber ook op is. Ons wag in spanning en binne n paar minute toe is daar 2 strepies so duidelik soos daglig. Dit is waar, ons is swanger.